21/07/2026
Welgedaan Franna!
Sannieshof-boer wen weerstasie: ‘Jy word ’n boer gebore’
Hy het nog nooit voorheen iets gewen nie. Toe Emile Jordaan, algemene bestuurder van METOS SA , Franna du Toit kontak om te sê hy het Landbouweekblad en METOS SA se Wen-’n-Weerstasie-kompetisie gewen, het hy gedink dis ’n foefie. “Met vandag se baie scams is ek versigtig,” sê hy. “Emile het gesê hy gaan my die volgende dag bel, maar ek het steeds getwyfel.
“Jy word ’n boer gebore,” glo Du Toit (34) van Sannieshof in Noordwes. Hy boer al byna 16 jaar met mielies, sonneblom, sojabone, skape en beeste, en het nog altyd ’n liefde vir boerdery gehad. “Ek geniet die boerdery en is ’n workaholic,” erken hy. “Ek spuit, stroop en plant self. Ek spuit in die nag en plant in die dag. Dis dikwels 18 tot 22 uur op jou voete.”
Daarom is hy opgewonde oor die vooruitsig om met akkurate weerdata te begin boer. “Met vandag se chemie is dit beter as jy op die regte tye spuit. As jy 12-uur die nag moet opstaan om te spuit, kan jy nou met die weerstasie se app in jou bed lê en kyk of die wind te veel waai en of dit te veel gedou het. Daai uur se tyd wat jy sou verloor het, is kritiek in boerdery.”
Hy sien uit om die delta-T en spuittye dop te hou, sodat hy met hierdie gevorderde weertegnologie nog beter en slimmer, ingeligte besluite op die plaas kan neem. “Die grootste uitdagings wat ek ervaar, is droogtes, maar hierdie jaar was die eerste jaar wat dit baie gereën het. So ek kon baie van die lande nie plant nie. Dit was ’n uitdaging met die nattigheid,” vertel Du Toit oor die weeruitdagings op die plaas.
METOS SA se betroubare, hiper-gelokaliseerde en plaasspesifieke voorspellings sal ’n verskil in sy dag-tot-dag lewe maak. Dalk sal daar nou selfs tyd wees om liefde te soek? “My vriende sê ek moet inskryf vir Boer Soek ’n Vrou,” skerts hy. “Hulle sê die vrou gaan nie aangery kom nie, ek moet haar soek. Maar ek is skaam en teruggetrokke,” sê Du Toit. Met meer tyd op hande, is daar dalk tog binnekort ’n oplossing vir dié droogte.